DIE EISPROSES

Wanneer ons met jou gekonsulteer het, die eis geëvalueer en ingestem het om die saak te hanteer, begin ons met die voorbereiding. Eise verskil na gelang van die oorsaak: motorongelukke, treinongelukke, polisieaanrandings en -skietvoorvalle, mediese nalatigheid, hondbytgevalle of “struikel-en-val”-sake. Maar alle eise is in ’n sekere sin dieselfde.

Ons deliktereg, soos dit betrekking het op eise vir persoonlike beserings of sterftes, is gebaseer op Aquiliese aksie, met sy oorsprong in Romeins-Hollandse reg. Oor die algemeen is daar egter twee hoofsake wat in alle eise onder die loep geneem moet word – eerstens die meriete en dan die kwantum.

Laastens – as jou eis suksesvol is – moet die verloorder gewoonlik ’n bydrae maak tot jou regskoste.

Die Meriete: Het jy ’n Eis?

cartoon6156

In eenvoudige terme beteken dit dat indien daar geen meriete vir die eis is nie, daar ook geen geld sal wees nie. Die rede hiervoor is dat die regsgronde van enige eis (wat volgens sy eie stel feite bewys moet word) “skuld” is. En dit bestaan uit die volgende elemente: Iets het gebeur wat nie moes nie, dit het op nalatige wyse of opsetlik plaasgevind en was onregmatig, dit het die besering/sterfte en gevolglike verliese of uitgawes veroorsaak, en die oortreder is aanspreeklik.

Om die feite vas te stel en te bepaal presies wat die wet sê, kan ’n ingewikkelde en duur proses wees. Dit kan dikwels ondersoeke, voorvalrekonstruksie, asook navorsing en litigasie (wat ’n uitgerekte proses kan wees indien daar ’n appèl is) behels. Die hantering hiervan is wat ons doen en dis die voordeel wat jy geniet wanneer jy ’n firma van spesialisprokureurs gebruik om jou eis te hanteer.

 

Die Kwantum: Hoeveel sal jy Uitkry?

Alhoewel daar ’n uitsondering is, is ons skadevergoedingsreg in die algemeen gebaseer op die idee dat die oortreder die slagoffer moet vergoed vir hul verlies (eerder as om gestraf te word deur meer as dit te betaal). Die reg probeer – sover dit met geld moontlik is – om die slagoffer, hetsy persoonlik beseer (of as ’n afhanklike van ’n afgestorwe broodwinner) in dieselfde posisie te plaas as voor die voorval. Gevolglik kan afhanklikes ná die dood van ’n broodwinner vir gelede en toekomstige verlies aan onderhoud eis. Hierbenewens (en dit word gewoonlik deur die agterblywende lewensmaat gedoen) kan begrafniskoste ook geëis word.

In sake wat met persoonlike beserings verband hou, bestaan skadevergoeding gewoonlik uit die volgende: Daar is algemene skadevergoeding vir pyn, skok, lyding, verlies van lewensgenietinge en verminking – alhoewel jy daarvan bewus moet wees dat ’n toets geslaag moet word voor jy sal kwalifiseer vir algemene skadevergoeding in sake wat met motorongelukke verband hou. Hierbenewens kan jy ook eis vir gelede mediese uitgawes en verlies aan inkomste. Laastens, danksy die “ten ene male”-reël, word toekomstige mediese uitgawes en toekomstige verlies aan inkomste ook terselfdertyd geëis. In ieder geval moet alle skadevergoeding, verliese en uitgawes wat geëis word, bewys word – en dit kan in die praktyk moeilik wees. Trouens, dit is die kuns, wetenskap en (soms) regsuitdaging van ons werk. Dít is wat dit vat om die kwantum, d.w.s. die geld van ’n eis, behoorlik te kwantifiseer (en te verhaal): Die proses behels gewoonlik die verkryging van verskeie regsgeneeskundige spesialisverslae. Ons het toegang tot spesialiste in alle mediese vakgebiede, maar omdat verweerders dikwels hul eie verslae kry, met verskillende opinies, kan ’n dispuut ontstaan. Om dus nie koste te laat oploop of hoftyd te mors nie, moedig die hofreëls die partye aan om sake te skik, of ten minste die geskilpunte te beperk.

Gevolglik is daar gewoonlik ’n proses waartydens skikkingsooreenkomste geformuleer word en onderhandelings gevoer word in ’n poging (hetsy volledig of gedeeltelik) om die eis te skik. Indien dit misluk (ten opsigte van enige aspek), is daar die moontlikheid dat die saak hof toe sal gaan. Dit behels, onder andere, om ’n spesialisadvokaat opdrag te gee en om met die kliënt, kundiges en ander getuies, indien nodig, te konsulteer. Laastens breek die “oomblik van waarheid” aan, d.w.s. jou saak kom voor die hof. Dit het sy eie fasette (wat ons nie hier gaan bespreek nie), maar dis genoeg om te weet dat dinge wel kan skeefloop. En al loop alles vlot, is daar altyd die moontlikheid van ’n appèl ná die tyd (alhoewel dit nie al te dikwels gebeur nie) … Dít is wat dit vat en dit maak dus sin om ’n spesialisadvokaat te hê wat jou belange op die hart dra om jou saak behoorlik te hanteer.

Verhaling van (sommige) Regskoste … van die ander Party

’n Laaste punt om te onthou, is dat die wet voorsiening maak dat die verloorder die wenner se regskoste betaal (of ten minste daartoe bydra). Dit word party-tot-party-koste genoem en die tarief hang af van die hof waarin jou saak verhoor word. Die verhaling van koste is ’n aparte proses wat die hoofaksie opvolg, d.w.s. dit word gedoen nadat die eis eers afgehandel is. Dit behels die opstel van ’n gedetailleerde kosterekening (gewoonlik deur ’n spesialiskostekonsultant). Die rekening word dan saam met bykomende bewyse vir enige uitbetalings (d.w.s. geld wat op die eis spandeer is) aan die ander party gestuur.

Indien die partye kan skik, werk alles ten goede. Maar indien nie, sal die rekening in die hof getakseer moet word (let wel dat dit niks met Jan Taks te doen het en wat jy die regering in belasting skuld nie). Alle items onder dispuut sal beredeneer word voor ’n takseermeester, wat dan beslissings sal maak. Laastens sal die rekening getakseer en toegewys word, d.w.s. gefinaliseer word. Die ander party sal dan hierdie bedrag moet betaal. Kosteverhaling rond die eisproses af en dit neem gewoonlik ’n paar maande om die geld te kry.

Dis natuurlik voor die hand liggend dat kosteverhaling van die ander party spesialiskennis vereis en dis in jou beste belang dat jou prokureur (en kostekonsultant) dit namens jou hanteer.